1985 - ASSA Bloemfontein Centre

Januarie 25ste, 1985, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Daar is belsuit om hoër ledegeld van R45 te aanvaar met ingangsfooi van R10,00. Die ledegeld mag egter verander indien die Rand-dollar waarde verander.
Mnr. Van Elinckhuyzen sê dat die astroïde waarneming 'n sukses was.
Wat die jaarlikse braaivleis betref is daar besluit om 'n bring en braai te hou. Mnr. Terblanche het die vleis aangebied en dit is met dank aanvaar. Dit sal later in die jaar gehou word.

Junie 7de, 1985, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Lede word bedank vir hulle teenwoordigheid by Mnr. Erasmus se inwyding van sy sterrewag. Die moonytikheid word uitgespreek vir die inwyding van Mnr. Viljoen se sterrewag en later 'n braai.
'n Skrywe is ontvang van die Potchefstroom se universiteit waarin alle belanghebbendes gevra word om 'n bydrae te lewer tot die opstel van 'n Afrikaans/Engels sterrekunde woordeboek. Mnr. Terblanche word voorgestel as korrespondent in die verband.
'n Skrywe is ontvang van Mnr. Danie Overbeek waarin hy navraag doen of die tak enige "grazing" okkultasies gedoen het. Sedert oom Wallie weg is is daar egter niks gedoen nie. Mnr. Van Eliinckhuyzen het waarnemings probeer doen insake die Asteroïde okkultasies maar die weer was nie gunstig nie en die okkultasies het ook te lank geduur. Verder was die tydsein ook nie hoorbaar nie.
'n Skrywe is van ASSA ontvang van Mnr. Jimmy Barker insake nominale bydrae van die lede tot ASSA se ledegeld. Daar word egter gevoel dat dit die kool die sous nie werd sou wees nie aangesien daar slegs een lid in Bloemfontein is wat hieraan voldoen.
Verder blyk dit dat daar volgende jaar 'n geselskap vanaf Engeland na Suid-Afrika kom vir die waarneming van Halley. Hulle sal Bloemfontein moontlik besoek. Baie navrae is van die publiek ontvang insake Halley en die moontlikheid word bespreek om die situasie uit te byt om nuwe lede te werf.

Julie 26ste, 1985, Algemene Jaarvergadering, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Dit blyk dat die 8 1/2 duim teleskoop wat ontvang is se optiese dele baie goed is. Die meganiese dele is egter swak. Daar word egter voorgestel dat die teleskoop in die sterrewag monteer word en dat 'n diens aan die publiek gelewer word.
Nadat die uittredende voorsitter sy jaarverslag gelewer het word die volgende bestuurelede gekies:
Voorsitter: Mnr. H. Terblanche
Ondervoorsitter: Mnr. B. Viljoen
Sekretaris/Tesourier; Mnr. F. Neser
Komiteelede: Mnre. H. Van Der Walt en J. Van Elinckhuyzen
Teenwoordiger op die Raad: Mnr. J. Van Elinckhuyzen
Plaasvervanger: Mej. P. Booth
P. R. D.: Mnr. P. Erasmus

Augustus 23ste, 1985, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Mnr. Viljoen noem die moontlikheid dat sy sterrewag later die jaar ingewy sal word. 'n Datum is egter nie genoem nie. Mnr. Erasmus noem dat 'n 8 1/2 reflektor deur 'n buitestaander aan die tak geskenk is. Mnr. Van Ellinckhuyzen sou die persoon namens die tak bedank. 'n Plaatjie met die persoon se naam op sal op die teleskoop aangebring word. Mnr. Van Elinckhuyzen is besig om 'n Dobsonian montering van die teleskoop te maak.
Daar word voorgestel dat die tak aan die Munisipaliteit moet skryf om die gebruik van die gebou te verseker. Verder word genoem dat die hoofgebou moontlik afgebreek gaan word en die tak dus nie krag sal hê nie.
Sodra die geboutjie in 'n werkende orde gebring is en die teleskoop instaleer is word voorgestel dat 'n ope-aand elke maand vir die publiek gehou word. Advertensies sal in koerant geplaas word en Halley se komeet moet deurlopend as tema gebruik word.

September 26ste, 1985, Crawfordsingel 12, Fichardtpark, om 8nm.
Berig is van Mnr. Ellinckhuyzen ontvang dat die 8 1/2 duim teleskoop feitlik voltooi is en dit begin 1986 installeer sal word. Mnr. Terblanche onderneem om 'n ondersoek in te stel na die sterrwag se dak, aangesien daar probleme ondervind word met die oopskuif. Hy sal ook die munisipaleit nader oor die gebruik van die sterrewag, en die tak se voorneme om sterreaande vir die publiek te hou. Die inligtingsdiens by Hoffmanplein kan gebruik word vir besprekings soos wat Boyden Sterrewag in die verlede gedoen het. Ons kan tussen 10 en 15 mense op 'n aand akkomodeer.
Mnr. Terblanche stel voor dat die lewer van praatjies weer ingetsel word in Januarie 1986. Mnr. Erasmus stel voor dat observasies van lede by die sterrewag gebêre moet word. Wat die voorgenome besoek aan Boyden Sterrewag betref verwittig Mnr. Terblanche dat hy nog nie Prof. Jarret in die hande kon kry nie.