1983 - ASSA Bloemfontein Centre

Januarie 27ste, 1983, Woning van Mnr. P. Erasmus, om 8nm.

Dit blyk dat die 6 duim teleskoop by Rene Hediger is tot groot verligting van die komiteelede. Verder blyk dit dat die simposium, projek Galileo deur die mat geval het, as gevolg van 'n gebrek aan belangstelling, weereens tot groot verligting van almal teenwoordig.
Mnr. Walker berig dat 'n okkultasie op 10 Maart plaasvind. Dit sal op die volgende vergadering bespreek word. Die vergadering word verdaag en almal kyk deur Mnr. Erasmus se indrukwekkende teleskoop.

Februarie 24ste, 1983, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Dit blyk dat 'n lesing oor sterrekunde die 4de Maart 1983 deur Mnr. Terblanche voor 'n gehoor by 'n Landsdiens kamp te Ladybrand gelewer sal word. Mnre. Walker, Erasmus en Van Zyl sal die okasie bywoon.
Mnr. Walker lewer 'n interresante praatjie oor alle aspekte van okkultasies met nodige demonstrasies. 'n Okkultasie nabootser word hierna aan die tak geskenk.
D. Higgins leen 3 duim refraktor en 6 duim teleskoop terug.

Maart 24ste, 1983, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Mnr. Walker berig dat die okkultasie van 10 Maart 1983 op die Bloemfontein - Winburg pad 'n sukses was. Die tydsein was baie goed ontvang.
Mnr. Erasmus berig dat die geld vir die praatjie deur Mnr. Terblanche op Ladybrand nog nie van die dept. van Kultuursake ontvang is nie. Hy sal hulle kontak.
Hierna het Derek Higgins 'n brief voorgelees aan die tak wat opgestel is in samewerking met Desmond Curry, waarin onredelike en ondeurdagte kritiek gelewer is op senior lede sowel as op die tak. 'n Voorstel is deur Mnr. Walker ingedien gesekondeer deur Mnr. Van Zyl en Terreblanche dat hierdie brief nie aanvaar word nie. Verder is voorgestel dat Dereck en Desmond 'n verskoning verskuldig is aan die tak. Desmond het hierna om verskoning gevra. Derek het egter slegs aan Mnr. Viljoen om verskoning gevra en geweier om die res van die brief terug te trek. Daar is voorgestel dat hy hierdie aangeleentheid goed moet oordink en by die volgende vergadering van sy voorneme in kennis stel.
Mnr. Rabie vra of hy sy 9 duim teleskoop in die sterrewag mag bêre. Dit word goedgekeur. Derek vra of hy die Lincoln Refractor mag leen. Dit word goedgekeur op voorwaarde dat hy dit na die volgende vergadering terug bring. Mnr. J. Ellinckhuizen berig dat die planeet Uranus 4 uur 25 Maart okkulteer.
Wat Ladybrand aanbetref blyk dit dat die praatjie goed ontvang was en dat dit 'n sukses was. 45 Mense was teenwoordig en daar is van 3 teleskope gebruik gemaak.
Hierna het Desmond en Derek 'n praatjie oor Black Holes gelewer.

Mei 5de, 1983, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Na aanleiding van 'n komitee vergadering gehou op 25 April 1983 lees Mnr. Walker 'n brief voor aan Derek Higgings waarin hy veroordeel word vir sy ondeurdagte en onredelike kritiek teenoor senior lede van die tak. Hy word versoek om 'n brief te onderteken waarin hy sy brief terugtrek. Hy weier egter waarna hy formeel en volgens bepalings van die konstitusie en 'n besluit van die komitee geskors word. Hy word hierna versoek om die vergadering te verlaat. Hy het wel die Lincoln refractor terug besorg.
Daar word voorgestel dat 'n sterreaand gereël word met Prof. Jarret op Boyden waarna lede sal uitgaan in die veld vir algemene waarneming.

Mei 26ste, 1983, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Mnr. Erasmus stel voor dat die teleskope van die tak onder die lede verkoop moet word. Teleskope sal inspekteer kan word en daar sal per koevert gebie kan word. Dit sal verder op die volgende vergadering bespreek word.
Mnr. Ellinckhuizen berig dat 'n artikel van hom oor die vervaardiging van oogstukke uit ou bril lense vir mense wat aan Astigmatisme van die oë ly in die Sky and Telescope gepubliseer is en daar het daarna ook korrespodensie uit Amerika gevolg van mense wat hierin geïntreseerd was.
Mnr. Woodcock berig dat sy seun 'n prys in 'n stokperdjie uitstalling by St. Michaels oor teleskope gewen het. Hy word hiermee geluk gewens

Julie 28ste, 1983, Algemene Jaarvergadering, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Nadat die uittredende voorsitter Mnr. Erasmus sy jaarverslag en die tesourier die finansiële staat voorgelê het is die volgende bestuurslede gekies:
Voorsitter: Mnr. B. Viljoen
Ondervoorsitter: Mnr. J. Van Ellickhuizen
Komiteelede: Mnre. H. Terblance, P. Erasmus
Verteenwoordiger op die raad: Mnr. G. N. Walker
Sekretaris/Tesourier: Mnr. F. Neser
Ledegeld is verhoog tot R5,00. Mnr. Walker skenk sy versameling boeke aan die klub. Daar word besluit om die vergadering elke 2de maand te hou op die onewe maand.
Daar word voorgestel dat die teleskope van die klub verkoop word en dat slegs een 6 duim teleskoop gehou word.

Augustus 23ste, 1983, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Oor die verkoop van die teleskope word besluit dat lede eerste keuse moet kry. Een teleskoop moet ook gehou word. Die volgende aanbiedinge is ontvang vir die teleskope: Die Lincoln teleskoop - R75,00 van Mnr. Erasmus. Die houtbuis teleskoop - R40,00 van Mnr. Viljoen. Mnr. Ellinckhuizen neem een 6 duim teleskoop huis toe om te toets voordat hy 'n aanbieding maak.
Daar is besluit op voorstel van Mnr. Erasmus om die vergaderings twee maandeliks te hou. Vergaderings sal in die onewe maande gehou word. Die partytjie sal op die volgende vergadering bespreek word.

September 22ste, 1983, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Om die beplande braai te reël word voorgestel dat 'n komitee gekies word. Dit sal dan die vleis, brandstof, drank en ligte reël. 'n Voorstel van Mnr. Terblanche om 'n skaap te skenk word met dank aanvaar. Die Ponyclub word voorgestel en dan Rayton. Die sekretaris sal die reël. Dit sal Vrydag 25 November om 6nm begin. Twee kaste bier kan gekoop word en die lede moet hulle eie sterker drank bring. Die wors sal by Hennie Steenkamp gekoop word. 'n Uitnodiging sal aan Prof Jarret en personeel gerig word.
'n Woord van dank word aan Mnr. Walker gerig vir sy versameling boeke en kas waarin dit geberg kan word. Daar sal 'n aantekening gemaak word van wie boeke leen. Dit sal gestempel word as eiendom van die ASSA Vrystaat tak. Mnr. Ellinckhuizen vra om die vergaderings op Vrydae te hou.

Oktober 28ste, Woning van Mnr. Erasmus, om 8nm.
Die braai sal op Rayton gehou word en 16 Kilogram vleis sal geskenk word. Die tak sal die res koop.
Mnr. Walker berig van 'n okkultasie op 13 November 1983 op die Dewetsdorp pad. Die tak sal dit wel aanpak.
Die teleskoop word aan Mnr. Rabie verkoop vir R40,00. Hierna vertoon Mnr. Erasmus vir ons skyfies.