1979 - ASSA Bloemfontein Centre

Januarie 25ste, 1979, Naval Hill Sterrewag, om 7.30nm.
'n Skrywe is aan Mnr. Hertz gerig aangaande die okkultasie van 26/10/1978. Die lesings het nie heeltemal koördineer met die voorspelde lesings nie. Mnr. Hertz het laat weet dat hy die lesings aanvaar het. Mnr. Walker verwittig dat hy 'n kleiner planeet waargeneem het. Hy sê ook dat die volgende "grazing" okkultasies plaasvind. Op 5/2/1979 om 17h35 uur, sewe myl uit op die Soutpan pad. Die ster is 'n 7.8 magn. Almal wat deelneem sal by die Veld Bioskoop by mekaar kom. Verder okklutasies: 22/2/1979: 4.h03, 9 myl op Brandfortpad, 8.2 magn. 23/2/1979, 3h30, 12 myl uit. 16/02/1979 - 12/00nm. 06/02/1979 - 8-9nm. In Oktober vind daar 'n okkultasie van die maan deur Satarnus plaas.
Mnr. Walker verwittig verder dat 'n brief van Mnr. Clife Turk van Kaapstad ontvang is aangaande finansiële probleme wat ondervind word met die publisering van die handboek en MNASSA. Daar word gevoel dat die prys nie meer verhoog kan word nie aangesien vorige verhogings alreeds bedankings tot gevolg gehad het. Daar word voorgestel dat 'n trust vir die doel gehou word waarvoor lede 'n vrywillige bydrae moet lewer. Mnr. Muller stel agter voor dat lede wat werklik geïntreseerd is om "Sky and Telescope" te ontvang, moet dit deur die hoofvereniging koop, wat tot gevolg sal hê dat ledegeld aansienlik sal daal. Mnr. Walker sal 'n skrywe in die verband aan Mnr. Turk rig.
Mnr. Zölner sê dat die uitstalling in die biblioteek in Februarie of Maart plaasvind.

Maart 22ste, 1979, Naval Hill Sterrewag, om 7.30nm.
Mnr. Walker berig dat daar op 24 Maart 'n okkultasie plaasvind 50 Km op die Edenburg om 3.38vm. Almal wat deelneem moet 1/30 voor die skougronde bymekaar kom.
Mnr. Walker berig dat 'n skrywe van Mnr. Clive Turk ontvang is waarin hy noem dat Mnr. Walker se voorstel met betrekking tot lidmaatskap en "Sky and Telescope" bespreek is op die raadsvergadering van 5/2/1979. Die vrees is uitgespreek dat die afskaffing van Sky and Telescope nog lede sal bedank. Die aangeleentheid word verder bespreek.
Mnr. Zöliner berig dat Mnr. Van Der Walt, Hoofbiblioteekkaris verwittig het dat hy oor 'n maand sal kan sê wanneer die tak 'n uitstalling in die biblioteek kan hou.

Mei 5de, Naval Hill Sterrewag, om 7.30nm.
Mnr. Walker verwittig dat Mnr. Hertz bedank het en dat hy verplig was om by die "Occultation Association of America" aan te sluit ten einde nog die okkultasie berekenings te ontvang. Hy sê dat hy 'n gewone okkultasie tot op die minuut kan opstel en dat hy 'n artikel in die verband sal opstel vir MNASSA.
'n Versoek van Mnr. M. G. Robinsen van Kimberley om meer uit te vind oor sterrekunde en teleskoopbou word deur Mnr. Viljoen beantwoord. Mnr. Viljoen sal 'n praatjie by die sterrewag hou vir sy kerk mense. Mnr. Lathen sal een 6 duim teleskoop leen.

Julie 26ste, 1979, 18de Algemene Jaarvergadering, Woning van Mnr. CTM Wilcox, om 7.30nm.
Die volgende lede is herkies as bestuurslede:
Voorsitter: Mnr. G. N. Walker.
Ondervoorsitter: Mnr. B. D. Viljoen
Ere Sekretaris/Penningmeester: Mnr. F. C. Neser
Die uittredende voorsitter verwittig dat daar geringe toename in die aktiwiteite van die tak was die afgelope jaar. Vyf totale okkultasies is deur die jaar aangepak en vyf gewone okkultasies met weinig sukses, wat toegeskryf kan word aan swak weer. Twee suksesvolle steraande is gehou met 'n totale bywoning van 40 persone. Daar is ook ooreengekom met die direkteur van die biblioteek dat 'n sterrekundige uitstelling gehou word in die voorportaal van die biblioteek. Onderhandelinge is die verband is nog aan die gang.

Augustus 22ste, 1979, Naval Hill Sterrewag, om 7.30nm.
Die voorsitter verwittig dat hy sy sisteem om die verskyning van 'n ster te bepaal vervolmaak het en dit werk baie goed. Hy het alreeds 'n artikel voorberei vir MNASSA en sal op die volgende vergadering die sisteem volledig verduidelik.
Mnr. Zölner verwittig dat hy op Brandkop was en die gebou en teleskoop ondersoek het. Die gebou is in 'n goeie toestand maar die spieël van die teleskoop was egter los. Hy stel belang om die gebou en die teleskoop te koop maar het nie die geld beskikbaar nie. Hy sal op die volgende vergadering definitief kan sê.
'n Skrywe is van die Munisipaliteit ontvang ivm die verhuring van die sterrewag. Die sekretaris het heraansoek gedoen maar geen antwoord is nog ontvang nie.
Die voorsitter stel hierna voor dat die lede elke 2de maand 'n praatjie voorberei. Hy lees hierna 'n baie interresante artikel oor Jupiter se mane wat in die koerant verskyn het.

September 22ste, 1979, Naval Hill Sterrewag, om 7.30nm.
Aangesien daar niks was om te bespreek nie het Mnr. Walker onmiddelik begin om sy sisteem om die akkurate verskyning van 'n ster na 'n gewone okkultasie te bepaal, te bespreek. Alhoewel dit baie interresant is is daar heelwat ingewikkelde berekeninge wat gedoen moet word.

Oktober 25ste, 1979, Naval Hill Sterrewag, om 7.30nm.
Die voorsitter verwittig dat daar okkultasies op die 3de Oktober en 15 Oktober was maar dit was bederf deur bewolkte weer. Daar sal op die volgende datums okkultasies wees, 25 Oktober 'n 7,5 sterkte ster, 27 Oktober 7,1, 30 Oktober 6.4. Op 13 November is daar 'n Okkultasie met Jupiter. Op 27 November 'n 5.7 sterkte ster.
'n Brief is van Natal tak ontvang ivm met 'n "Izakanyensi". Nie een van ons lede sal dit bywoon nie. Mnr. Walker sal antwoord. Daar is besluit om in die vervolg vergaderings om 8nm. te hou sodat Mnr. Prinsloo dit kan bywoon

Desember 7de, 1979, Naval Hill Sterrewag, om 8nm.
Mnr. Walker verwittig dat hy Jupiter se okkultasie waargeneem het in daglig op 13 November 1979. Hierna is die vergadering verdaag vir waarneming deur die refractor teleskoop.