1976 - ASSA Bloemfontein Centre

Januarie 14de, 1976, Woning van Mnr. G. J. Muller, om 7.30nm.
Die voorsitter verwittig dat 'n tjek vanaf die munisipaliteit ontvang is vir die bedrag van R22,00 ten opsigte van huurgeld wat terug ontvang is na aanleiding van vertoë wat deur die tak aan die munisipaliteit gerig is vir 'n gedeeltelike terug betaling. Die sekretaris word bersoek om die geld te bank. Daar word besluit om van die teleskope op Saterdag 16 Jan. 1976 na die Naval Hill sterrewag te verskuif. Mnr. Rhodes sal 'n kombi beskikbaar stel. Mnr. Groenewald sê dat hy besig is met die waarneming van die wisselster Algol maar sy waarneming word bemoeilik deur reënweer. Mnr. Walker verwittig dat daar op 1 Sept 22 myl weg 'n okkultasie sal wees van 'n 6.9 sterkte ster. Die maan sal 57% verlig wees. Bespreking hiervan word voorlopig uitgestel.
Wat die maansverduistering betref verwittig Mnr. Walker dat die maan gesien kon word maar sterre was nie sigbaar nie as gevolg van wolke. Mnr. Rhodes sê dat daar nie binders beskikbaar is by die planetarium vir die "Sky and Telescopes" nie. Daar word besluit om self die binders te maak en die benodighede kan by "Arts and Crafts" en C. P. Van Zyl boekhandel verkry word.
Nuus is ontvang insake die oorlye van Mnr. C. T. M. Wilcox se seun en daar word 'n mosie van rou beklag voorgestel. Die sekretaris word versoek om die tak se medeleye aan Mnr. en Mev. Wilcox oor te dra. Verder verwittig Mnr. Rhodes dat Mnr. Lincoln die tak 'n goeie kyk jaar toegewens het. Donasies in die vorm van 'n driepoot vir 'n teleskoop asook R5,00 word vanaf Mnr, Rhodes ontvang, waarvoor hy bedank word.

Februarie 18de, 1976, Woonstel van Mnr. Prinsloo, om 7.30nm.
Mnr. Rhodes sê dat die pad by Brandkop te nat was om die teleskope te verwyder van die sterrewag. Daar word besluit om die teleskope op Saterdag 22/02/76 te verskuif. Wat die wisselsterre betref stel mnr. Muller voor dat die ster serktes vergelyk moet word in die Norton ster atlas en dan met die blote oog na die sterre gekyk word en die sterktes te skat.
Mnr. Groenewald lewer daarna 'n interressante praatjie oor wisselsterre.
Mnr. Muller verwittig dat hy Prof. Jarret genader het vir 'n besoek aan die Boyden Sterrewag. Prof Jarret het egter gesê dat hy as gevolg van drukte van werk en reënweer nie die tak kan akkommodeer nie. Hy versoek die voorsitter om hom egter weer in April te nader.
Die begeerte word uitgespreek om weer 'n filmaand te hou. Mnr. Rhodes sê dat hy met Mnr. du Plessis van Nas. Opvoeding sal praat. Mnr. Rhodes sê dat hy die "Sky and Telescopes" baie goedkoop by 'n binder kan laat bind.

Maart 10de, 1976, Woonstel van Mnr. Rhodes, om 7.30nm.
Die voorsitter verwittig dat die teleskope verskuif is na Naval Hill maar die gebou sal moet skoon gemaak word. Hy vewittig dat die dak nie meer wil skuif nie en dat daar aandag aan geskenk moet word. Mnr. de Leeuw sê dat hy moontlik daarna sal gaan kyk. Verder sê Mnr. Muller dat die deur van die gebou herstel moet word. Dit blyk dat die groot gebou moontlik oorgeneem gaan word deur die Univesiteit en dat krag weer installeer gaan word met die gevolg dat krag na die klein geboutjie aangelê sal word. Mnr. Wilcox bied aan om addisionele sleutels te laat maak van die hek en gebou sleutels. Dit word met dank aanvaar.

Mei 12de, 1976, Woning van Mnr. G. N. Walker, om 7.30nm.
Volgens Mnr. Walker sal daar op 31 Augustus 1976 'n okkultasie sowat 47 myl vanaf Bloemfontein is. Die ster is 'n 6.8 magn. Daar word besluit om die okkultasie aan te pak en besprekings daarvan sal in Augustus plaasvind.
Volgens Mnr. de Leeuw blyk dit dat die dak van die Naval Hill Sterrewag baie moeilik oopskuif, selfs vir twee persone. 'n Katrol stelsel sal aangebring moet word vir hierdie doel. Verder blyk dit dat die groot gebou aan Sukovs geskenk is en krag aangelê sal word. Verder verwittig Mnr. de Leeuw dat op die Brandkop Sterrewag alles nog in orde is. Die pad is egter oorgroei met gras.
Mnr. Muller het met Prof Jarret ooreengekom om op Dinsdag die 8ste Julie of Vrydag die 4de Junie 'n besoek na Boyden te reël. Die lede besluit op Dinsdag 8 Junie.

Augustus 8ste, 1976, 18de Algemene Jaarvergadering, Woning van Mnr. C. T. M. Wilcox, om 7.30nm.
Spruitend uit die verslag van die voorsitter insake die meer aktiewe gebruik van die Naval Hill sterrewag word voorgestel dat sterreaande gehou word waarby die skole en Oranje jeug betrek word. Daar sal dan 'n praatjie gehou word om hiermee saam te val. Mnr. Rhodes bied aan om die direkteure van SUKOVS te nader vir die gebruik van een van die kamers van die hoofgebou vir die doel.
Die uittredende voorsitter lewer hierna sy jaarverslag waarin hy dit duidelik stel dat die tak meer aktief kan wees. Daar is drie rigtings waarin lede hulself aktief in kan betrek nl. 1. waarnemings 2. tegniese en 3. teoreiese werk. Die eerste groep is verantwoordelik vir sterrekundige waarnemings en moet dus resultate in die verband lewer, die tweede groep is verantwoordelik vir die onderhoud van die tak se toerusting en die derde groep is die lede wat lief is om te lees, en sodoende hulle kennis kan uitbrei tot voordeel en gebruik van die tak.
Die sekretaris word versoek om die finansiële verslag te lewer, waarna oorgegaan is om die nuwe bestuurslede vir 1976/1977 te kies:
Voorsitter: Mnr. G. J. Muller
Ondervoorsitter: Mnr. G. N. Walker
Verteenwoordiger op die Raad: Mnr. J. Rhodes.
Komiteelede: Mnr P. G. Groenewald en D. P. de Leeuw.
Sekretaris/Tesouries: Mnr. F. C. Neser.

September 15de, 1976, Woning van Mnr. G. J. Muller, om 7.30nm.
Die slot van die hek op Naval Hill is verwyder en die voorsitter stel voor dat 'n nuwe slot gekoop en aangesit moet word. Die sekretaris word versoek om vas te stel of daar 'n staande tarief vir elektrisiteit en hoeveel dit is. Daar word voorgestel dat 'n lys opgestel word van Bloemfontein skole vir 'n omsenbrief om 'n besoekers aand te reel vir die wat belangstel.
Mnr. Walker verwittig dat daar op 30/10/76 19 myl op die Dewetsdorp pad 'n okkultasie om 10/25 nm plaasvind. Die ster in 'n 6.8 sterkte ster en die maan 59% verlig. Daar word besluit om dit aan te pak, en dit sal op die volgende vergadering bespreek word.
Mnr. Viljoen, nuwe lid, bied aan om die halfvoltooide 6dm spieël te koop vir R10, wat aanvaar word.

Oktober 13de, 1976, Woning van Mnr. D. P. de Leeuw, om 7.30nm.
Mnr. Rhodes bied aan om 'n nuwe slot vir die hek van die Naval Hill Sterrewag te koop, en Mnr. Viljoen het gereël dat 'n kragpunt aan die hoofgebou voorsien sal word wat die tak kan gebruik.
Die okkultasie van 30 Oktober word bespreek en sal in spanne aangepak word. Daar word ooreengekom om 1 1/2 myl anderkant die klawerblaar op die Dewetsdorp pad te ontmoet en dat lede 8/30 nm daarvandaan sal vertrek.

November 24ste, 1976, Woning van die sekretaris, om 7.30 nm.
Die voorsitter verwittig dat hy 'n brief ontvang het van die stadsraad waarin ons verwittig word dat ons huur verval in Desember. Mnr. Muller het dan ook 'n brief geskryf waarin hy vra of die voorwaardes van die huur nog dieselfde is. Die sekretaris word versoek om die huur te betaal.
Die okkulasie van 30 Oktober is nie aangepak nie weens reënweer.
Mnr. Rhodes skenk 'n slot van R2,75, en word hartlik bedank.